top of page
Search

Diners club

  • Writer: andrevanzylrt
    andrevanzylrt
  • Jul 23, 2020
  • 5 min read



Die van Zyls het die hele jaar gespaar, maar kom Desember, dan gaan ons groot. Ons het elke jaar see toe gegaan en dan in hotelle gebly en by restaurante ge eet. Dit was gedurende een van die vakansies, toe ek vir pa vra terwyl ons by ’n restaurant instap, “Pa, wat is Diners Club?” Pa het 'n interresante sin vir humor gehad. Hy was altyd reg met ‘n snert storie om my baie vrae te antwoord en ma het net haar oe gerol an later vir my die regte antwoord gegee wanneer dit 'n belangrike vraag was.


“Dit is ‘n kaart waarmee ryk mense verniet eet by restaurante” antwoord pa.


My kop wil ontplof. Dit is die koelste ding ooit! My verbeelding raak op hol. "Jy behoort aan hierde eksklusiewe klub, amper soos ‘n bende", dink ek. Ek sien al hoe ek by ‘n plek instap, diskreet my Diners Club kaart wys en knipoog vir die man by die deur. Daarna is dit net kos en poeding, soveel as wat ek kan eet.


Na die vakansie is daar ‘n paar dae voor die skool weer begin. Dit is Sondag, net na middagete en die Diners Club ding spook by my. ‘n Paar van sewende straat se kinders hang rond in ons tuin en ruil stories uit oor die vakansie. “Ek is lus vir swiets” kondig ek aan. “Ek ook” hoor ek iemand se. “Wie het geld?” vra ek. Doodse stilte daal oor die groepie neer. Nie een van ons het ‘n tekort aan basiese goed soos kos en klere gehad nie, maar geld was skaars.

“Ek het fyftien sent” kondig ek aan. ”Ek gaan gou my ma vra” hoor ek iemand se. “Ons het koeldrank bottels” se Kosie. Koeldrank bottels was soos Bitcoin. Dit was virtuele geld wat langs mense se agterdeure gestaan het, reg om ingeruil te word vir regte egte geld!

“Wag, wag“ roep ek. “Ons moet eers beplan” se ek. "Hoe kan 'n mens nou 'n ding aanpak sonder 'n plan" dink Ek. "Wanneer gaan ons nou swiets koop" dink meeste van die ander.


“Kom ons stig ‘n klub, dan kom ons elke Sondag bymekaar, en koop swiets.” se ek. Party lyk skepties maar almal stel belang. “Elke Sondag?” Vra iemand ongelowig. “Waar gaan ons so baie geld kry?”. "Moet ons weer 'n gat grou?" vra iemand anders. Ek is dadelik kwaad. Ek moes die donnerse gat self toegooi toe pa ons vang. Ons praat nie verder oor die gat nie.


”Kom ons kry eers ‘n naam vir die klub” se ek en probeer so demokraties moontlik voorkom. Ek het eintlik lankal al een in my kop. ‘n Paar name word voorgestel, maar ek skiet hulle af sonder om eers te luister. “Kom ons noem dit Diners Club” kondig ek aan asof ek nou net daaraan gedink het. “Diners Club???” vra iemand verbaas “Wat is Diners Club?” Ek vertel vir hulle wat pa vir my vertel het maar ek las 'n hele paar stertjies aan, net om seker te maak die behoeftes van tienjarigers word ook in ag geneem. Hulle oe rek. “Waar kan ons ‘n Diners Club kaart kry?” wil iemand weet. “Nee man, net ryk mense kry Diners Club kaarte, ons gebruik net die naam. Ons sal maar self vir alles moet betaal” stel ek almal teleur.


Diners Club word eenparig aanvaar as ons klub se naam en ons spring aan die werk. Ampsdraers en amptenare word aangestel. Ek stel myself onverpose as die grootbaas aan. Mariet het nog altyd groot gedroom en on almal dink sy gaan eendag ryk wees. Mariet word aanvaar in die pos as ons penningmeesteres. Sy tel geld en skryf goed in 'n boek.


Gerhard en Dawie is lekker stout en almal stem in, hulle is perfek vir die nuut uitgedinkte pos, wat ons noem 'runners'. Runners se werk is baie gevaarlik. Hulle hoof taak sou wees om van die bure se lee koeldrank bottels langs hulle agterdeure te gaps en dan by die kafee te gaan ruil vir regte egte geld.

Laaste word aankopers aangestel, en ons is reg om te begin.


‘n Sub-kommitee vergader om te besluit watter bure se honde nie te gevaarlik is nie,.


Die runners vat die pad en die res van ons hardloop huis toe om ons ma's te gaan smeek vir 'n paar sente.


So 'n uur later kom ons weer bymekaar. Mariette skryf vandag se datum en 'n opskrif agter in 'n ou skoolboek van verlede jaar. Sy het haar penne sakkie en al haar koukiepenne gebring. Sy onderstreep al die opskrifte met dubbel lyne en kleur van die letters met haar koukie penne in. Diners Club is ‘n erg professionele organisasie.


Gerhard en Dawie kom aangehardloop. Ons sien net tande soos hulle glimlag. Hulle oorhandig trots amper een Rand se munte aan Mariet. Ons is almal verstom. “Waar, wat...” sukkel ek om die woorde uit te kry. “Koeldrank bottels is ‘n goudmyn“ dink ek. n' Handjie vol sente word deur die res van ons ingehandig, en Mariet skryf neer. Nie almal kon op sulke kort kennisgewing ons ma's oortuig om vir ons geld te gee nie. Dit maak nie saak nie, ons verstaan, solank jy probeer het. Mariet trek nog strepe en kleur goed in die boek in.


Inflasie was nie eers ‘n woord in daai dae nie. Swiets het jaar na jaar dieselfde gekos. Dit was so maklik om te “budget“. ‘n Klein sjokolade was ses sent, en ‘n grote, tien sent. ‘n liter Coke was vyf en twintig sent en 'n boks Romany Creams was so twintig sent.


Na ‘n lang debat en amper ‘n bakleiery is ons aankope lys gemaak. ‘n liter Coke om te deel, ‘n boks Romany Creams, ’n groot pak chips en verskeie sjokolade stafies om te deel.


Daar is geld oor. Mariet sit die geld in 'n sakkie en maak 'n nuwe opskrif in die boek. "Die Diners Club het resewes" dink ek.


Die aankopers vat die pad, lysie in hand.

Na 'n rukkie daag hulle op met 'n hele sak vol swiets.


Ons maak 'n paar reels, hoofsaaklik te doen met die groote van die hap wat elkeen mag vat wanneer dit jou beurt is om van die sjokolade stafies te eet. Ons gaan sit in 'n sirkel en die Diners Club se eerste vergadering is offisieel aan die gang. Mariet skryf in die boek.


Konsternasie! Die Coke is klaar, en nie almal het 'n slukkie gekry nie!

'n Sub-kommitee vergader dringend om 'n oplossing te vind. 'n Metode moet ontwikkel word om te verseker dat almal se slukke min of meer ewe groot is, want daar was baie klagtes en amper weer 'n bakleiery. n' Tyd limiet word voorgestel, maar niemand het horlosies nie. Uiteindelik word 'n vreeslike ingewikkelde reel aanvaar. Die reel was so onverstaanbaar, almal was benoud wanneer hulle die bottel kry, en kon skaars sluk. Gevolglik het die Coke baie langer gehou en almal was gelukkig. Groot boetes is opgele vir 'backwashing'. Almal wat al 'n koeldrank gedeel het, sal verstaan wat 'backwashing' is.


Die koekies, swiets en koeldrank verdwyn soos mis, maar die mae is vol en almal glimlag.


"Diners Club is nie net vir ryk mense nie" dink ek.


Na 'n maand van elke Sondag vergader, raak die geld op. Die bure bere nou hulle koeldrank bottels binne, en ons ma's se dit is rerig nou genoeg. Noodgedwonge besluit ons dat die Diners Club vergaderings opgeskort moet word tot verdere kennisgewing.


Dit is Donderdag middag na skool en Mariet wil my sien. 'Die groentewinkel verkoop groot waatlemoene op 'special' vir 99c" se sy. "Wat daarvan?" wil ek weet. "Hoeveel skywe kan 'n mens uit 'n waatlemoen sny?" vra sy. "Ek weet nie, seker so tien" antwoord ek. "As ons elke skyf vir vyftien sent verkoop, dan maak on vyftig sent profyt" se Mariet. Ek staar haar in verwondering aan. "Mariet is 'n genius. Sy gaan verseker eendag ryk wees" dink ek.


'n Noodvergadering word geroep. Planne word gemaak en take word uitgedeel.


Teen vyf uur daai middag maak die Diners Club sy eerste profyt. Vyftig sent!


Ons kan nie wag vir Sondag nie.




 
 
 

تعليقات


©2020 by Andre's thoughts and other random things. Proudly created with Wix.com

bottom of page