top of page
Search
Writer's pictureandrevanzylrt

'n Boer maak 'n plan



Skool het my maklik verveel. Ek kon nie wag om na skool op my blou Western Flyer te klim en huistoe te jaag en aan my nuutste eksperiment te werk nie. Informasie was vir my 'n groot probleem. Ons stel inseklopediee by die huis was stok oud en die biblioteek se boeke het nie rerig gehelp nie. Die onderwysers het baie gou agterdogtig geraak wanneer ek oor party goed uitvra, so ek het meeste van die tyd maar self aangesukkel. In daai dae was daar nog nie internet nie. Ek wonder soms hoe dit sou wees as ek as kind Google gehad het.


Toe uiteindelik kry Suid Afrika TV in 1976. Ek was elf jaar oud. Die volgende jaar was daar 'n program elke Vrydag aand op TV met die naam 'Uit en tuis'. Elke maand het die program 'n spesiale aanbieding gehad wat hulle "'n Boer maak 'n plan" genoem het. Ek het dit vir niks op aarde gemis nie. Vir 'n hele uur lank het omies in khaki vir my gewys hoe om allerhande gevaarlike goed te bou. Ek kon nie glo dat pa my toegelaat het om dit te kyk nie.


Dit is Vrydag aand en ek sit weereens opgewonde en wag.. "Waaroor gaan dit vanaand wees?" wonder ek. 'n Oom met 'n kortbroek en 'n rooi gesig word voorgestel en hy wys 'n koper affere met pypies en stoom, en 'n vuurtjie wat brand. Kort voor lank besef ek wat hy vir ons demonstreer. Hy maak alkohol! Ek sukkel nou al vir maande om presies dit te doen. Ek was so 'n paar maande gelede in groot moeilikheid by pa oor alkohol, en onthou skielik hy sit hier by my op die ander bank. Ek loer skelm in pa se rigting maar skrik toe ek sien hy kyk reguit vir my. "Moenie idees kry nie mannetjie" skel pa. Ek se niks en ons kyk in stilte verder.


So ses maande gelede...

Ons biologie juffrou staan voor die klas en vertel vir ons van die eenvoudigste vorms van lewe, bakterie. "Bakterie is nie net sleg vir mense nie." stel juffrou ons gerus. "Penicillin maak jou gesond en gis laat brood rys, o en dit maak ook die alkohol in wyn en bier." In my gedagtes sien ek koddige klein goetertjies wat wyn en bier in bottels tap. "Hoe maak goed sonder 'n brein alkohol?" wonder ek. Twee dae later wonder ek nog steeds. Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. Ek sal dit maar moet probeer, besluit ek.


Nie lank daarna nie hoor ek toevallig hoe my niggie Wilma vir my ma vertel dat sy brouers gis pille by die apteek koop vir haar vel. "Rerig" wonder ek. "Kan 'n mens brouers gis by 'n apteek koop, sonder 'n lisensie of enige iets?" Ek besluit om self te probeer. Die volgende middag is ek apteek toe met my verjaardig geldjies wat ouma vir my gegee het.


Ek soek op en af tussen die rakke, maar ek kry nie brouers gis tussen al die botteltjies en boksies nie. "Kan ek help seun" hoor ek iemand reg agter my vra. Dit is die apteker oom in 'n wit jas. Ek skrik my lam en dit vat sekondes voordat ek kan praat.


"Ek soek brouers gis oom, meneer, apt . . ." "Wat is 'n apteker se titel" wonder ek.


"Wat op aarde wil jy met brouers gis maak?" vra hy verbaas.


Nou moet ek vinnig dink.

"Dit is vir my ni. . nee vir my sussie oom, meneer".

"Wat noem 'n mens hierdie mense?" wonder ek nog steeds.


"Hoekom kom sy nie self apteek toe nie?" wil hy agterdogtig weet.

"Sy is te skaam oom, meneer" antwoord ek.


Ek sien hoe die apteker oom se brein oortyd werk.

"Hoeveel skade kan hierdie klein snotkop met 'n paar gis pille aanrig" wonder hy.


My pa sou 'n boek daaroor kon skryf so twee weke later, maar die apteker oom laat my nietemin toe om 'n botteltje brouers gis tablette by hom te koop.


Juffrou het gese gis is lewendige bakterie wat suiker eet en alkohol pee, en dan nog vreeslik poep ook. Sy het dit nie heeltemal so verduidelik nie, maar dit is hoe ek dit vertaan het. "O ja suiker ook" onthou ek en stap langsaan by die kafee in om 'n groot pak suiker te koop.

Bier en wyn word van vrugte en goed gemaak, so ek kort vrugte. Ons liquat boom hang swaar met ryp vrugte en baie le al op die grond en vrot. Ek pluk 'n emmer vol en spandeer die hele middag om dit fyn te maak. Liquats het nie baie sap nie, so ek meng die dik sop met 'n bietjie water. Ek druk ook twee gis tablette fyn en meng dit in. Ek vul versigtig twee groot Coke bottels met die sap en seel hulle met kurke wat ek by Dawie gekry het. Dawie se ouers hou gereeld partytjies en hulle het baie kurke wat rondle.


Ek maak die kurke stewig aan die bottels se nekke vas met koperdraad. Ek vermoed hierdie poepende gis mannetjies gaan baie gas maak, en ek wil nie he die kurke moet uitskiet nie. "Dit is seker hoe hulle sjampanje maak" wonder ek.


"Wat gemaak met die bottels" vra ek myself. "As pa hulle vind, joh joh" dink ek. Die een plek waar pa nooit sal soek nie, is in my kas in my kamer. Hy sal nie vewag dat ek so braaf sou wees om dit daar weg te steek nie. Al die kamers in ons huis het ingeboude kaste met twee groot deure onder en kleiner deure heel bo. 'n Mens moet op 'n stoel of leer staan om daar by te kom. "Perfek" dink ek. Twee bottels word versigtig in die kas geplaas met hulle kurke na voor.


Ek inspekteer elke middag die bottels. Behalwe vir baie borrels in die bottels, gebeur daar niks. "Hoe lank vat dit voor dit alkohol word, en hoe gaan ek weet wanneer dit reg is?" wonder ek. "Nog so 'n week, dan gaan ek solank een bottel oopmaak" dink ek.


Dit is Vrydag aand en ek lees tot laat van Incas en Mayans in Suid Amerika. Skielik is daar 'n moerse slag erens. Dit klink of iemand 'n deur in die huis afgeskop het. Ek le doodstil en luister vir nog geluide. Pa storm in sy onderbroek by my kamer in. "Wat was dit?" fluister hy. "Ek weet nie, ek het dit ook gehoor" antwoord ek verskrik. Pa staan reg voor my kas. Agter sy rug loop daar 'n dik stroom bruin sous teen die kas deur af. "Wat ruik so?" vra pa verbaas. "Ek ruik niks" se ek benoud. "Daar hoor ek weer iets" probeer ek pa se aandag aftrek. "Iets vrot hier in jou kamer" se pa, en kyk rond. Pa se oog vang die bruin sous wat teen die deur af loop. My hart hou op klop. "Vanaand gaan ek dood, en ma is nie eers hier om te keer nie". "Wat de fok is dit?" vra pa, heeltemal uit die veld geslaan. Pa gebruik selde lelike taal, maar ek het hom nog net 'n paar keer so verbaas gesien. Ek weeg my opsies op en besluit dat enige iets wat ek nou gaan se, dinge net erger gaan maak, so ek bly stil. "Pa bring 'n stoel om self ondersoek in te stel, maar voor hy kan opklim, skiet die tweede kurk uit, en nog sous loop teen die kas se deur af. Pa steier terug en beland bo op my bed. Hy draai skielik om en gryp na my. Ek is soos blits uit die bed en gaan staan al prewelende in die hoek en smeek, hopende dat ma wakker sal word en my kom red.


Pa bedaar uiteindelik en soos gewoontlik is sy oplossing om alle tekens van my nuutste sonde so gou moontlik totaal te probeer uitwis. Dit is middernag en ek skrop vir die soveelste keer my kas uit. Pa kom doen gereeld inspeksie, maar kla dat hy dit nog steeds kan ruik. Ek skrop verder. Teen twee uur is pa uiteindelik ook moeg en ek mag gaan slaap. "Ek wonder of daar alkohol in daai bottels was" dink ek voor ek aan die slaap raak.


'n Boer maak 'n plan.

"Die rooi oom op die TV het my nou die aand heelwat van alkohol geleer." dink ek. "Hierdie keer gaan ek dit regkry." 'n Stook ketel is 'n ingewikkelde masjien vir 'n twaalfjarie om te bou, vernaam as jou ouers nie daarvan mag weet nie, en geld maar skaars is. Ek is vasberade en begin nietemin om parte bymekaar te maak.


Pa het na al die jare besluit om weer 'n besigheid te begin. Hy het kort voor hom en ma se troue, baie seergekry in 'n werks ongeluk en het gevolglik sy besigheid verloor. Pa het vir 'n baas gaan werk en vir ma belowe hy sal eers die kinders groot kry voor hy weer 'n besigheid begin. Ouboet en ousus is lankal uit die huis uit, want hulle is baie ouer as ek. Ek dink nie ek was deel van pa se meester plan nie, maar hier is ek nou...


Pa huur tans 'n klein hoekie in 'n groot fabriek by 'n oom. Pa het vir Lukas, ons tuinman geleer om hom te help by die werk en hulle gaan goed aan. Ma is baie suur vir pa omdat sy haar vlytige tuinman kwyt is. Ek gaan gereeld saam met pa na die fabriek toe oor naweke, en help waar ek kan. Ek stap soms in verwondering tussen die oom se masjiene deur en wonder hoe hulle werk en wat hulle vervaardig. Deurentyd soek ek ook kliphard na parte vir my alkohol projek. Een Sondag middag, toe ons by die fabriek inloop, sien ek dat een van die oom se masjiene heeltemal uitmekaar gehaal was. 'n Stuk van die masjien hang aan 'n ketting en daar is olie oral op die vloer. My oog vang 'n groot rol dun koper pyp. "Dit is presies wat ek nodig het" dink ek. Ek oorweeg diefstal maar besluit daarteen. Ek is mos goed grootgemaak, en ek steel nie.


Pa vra my later om vir hom rommel te gaan weggooi in die groot staal vullis bak wat buite die fabriek staan. Toe ek by die bak kom, sien ek verskeie stukkies koper pyp, presies soos die van die masjien, maar hulle is gebuig en vuil. "Dit is seker die ou pypies wat uit die masjien uitkom" dink ek. Ek soek en soek deur die rommel, en vind uiteindelik 'n redelike lang stukkie pyp, een wat nie te veel gebuig is nie. Ek worstel met my gewete. "Is dit diefstal wanneer jy iemand se rommel steel?" vra ek myself. Die rooi mannetjie op my linker skouer wen die argument en ek gaan steek die pyp onder die seiltjie agter op die bakkie weg. Pa mag vir verskeie redes nie van die pyp weet nie. "Tic" dink ek. "Een stappie nader"


Ma kon so vinnig soos 'n masjien brei. Sy het self my skool truie gebrei, kompleet met die skool se gekleurde strepies in die kraag en moue. Wanneer die truie te klein raak, dan trek ma hulle Vrydag middag los en brei 'n hele nuwe trui met meeste van dieselfde wol, reg vir aantrek by Maandag more. Gevolglik was wol volop in ons huis. Ek het ook leer brei, en het verskeie swaai toue sommer self gemaak.

Ek benodig 'n tou van so vier meter lank en nie te dik nie. Ek kry ou wol by ma, en vinger-hekel gou een. Dit is baie vinniger as brei. Ek maak 'n haak van koperdraad en maak dit aan die tou vas. Daarna stapel ek allerhande goed bo op mekaar teen ons agtermuur sodat ek daarop kan klim en oor die muur kan sien tot in die agterplaas van die kafee.

Die kafee maak die lekkerste slap chips. Ma se hulle winkel is baie skoon en hulle gebruik altyd vars olie. Ek weet nie hoe sy dit kan proe nie, maar ma weet van die goed. "Ma is reg" dink ek toe ek die rye en rye lee sonneblom olie drommetjies agter die kafee sien staan. Ek gooi my tou en haak oor die muur en na 'n paar minute vang ek die handvatsel van een van die lee drommetjies en trek dit nader. "Tic" dink ek, nog 'n part.


Ek besluit om vir Dawie en Gerhard van my eksperiment te vertel. Dawie se pa werk vir 'n konstruksie maatskappy en is gereeld vir dae van die huis af weg. Ons het al baie gevaarlike goed in hulle erf aangevang, en genoeg tyd gehad om dit weer af te breek, en alles te bere, voor die oom weer by die huis was. Ons besluit om die eksperiment by Dawie se huis te doen. Agter in die hoek van hulle erf, reg langs ons erf se hoek, is 'n groot staal deksel in die grond. Pa se ons riool vloei daar binne. Pa vertel baie stories wanneer ek hom goed vra, en ek dink hy jok al weer vir my. "Dit kan nie wees nie, ek ruik dan niks." wonder ek.


Gerhard en Dawie gaan soek bakstene terwyl ek uitdink hoe ek 'n oondjie op die staal deksel gaan bou, een waarop die drommetjie perfek sal pas.


Pa het 'n ou pikswart Primus paraffien blaas vlam ding gehad waarmee hy goed baie warm kon maak. Ek het al gesien hoe hy die ding pomp en dan aan die brand steek en gewonder of ek dit self sal regkry sonder om die plek af te brand. "Vandag is die dag" dink ek. Ek sukkel vir meer as 'n uur, maar uiteindelik is die Primus aan die brand. Ek het 'n gaaitjie so groot soos die koper pype bo in die olie drommetjie gemaak, en die plan was om die een kant van die pypie deur die gat te druk en dit aan die drommetjie vas te soldeer. Dit is nie so maklik as wat dit klink nie. Ek sukkel die hele middag sonder sukses en probeer weer die volgende middag. Uiteindelik is die pypie vas gesoldeer. "Tic, nog 'n part is uitgesort"


Ons installeer die drommetjie op die oondjie en rol die koper pypie in sewe draaie. Die rooi oom op TV het gese dit moet sewe draaie wees anders is dit nie witblits nie. Dawie gaan haal 'n plastiek meng bak in hulle kombuis en ons buig die pypie sodat al die draaie in die bak hang. Ons vul die bak met koue water. Ons tap die drommetjie half vol water en steek die vuurtjie aan. Na amper twee ure spoeg-spoeg druppels water by die bek van die pypie uit. "Dit ruik soos chips!" kondig Dawie aan. "Dit is 'n probleem" dink ek. Ons kook en spoel die drommetjie oor en oor uit die hele week totdat ons nie meer chips ruik nie.


Intussen koop ek 'n sak lemoene, ons sny alles in stukke, en pak dit in twee van Dawie se pa se staal vleis bakke. Dawie se pa is weer weg vir werk so ons kan min of meer maak wat ons wil aan die kant van die muur. Ek voeg 'n groot pak suiker by en strooi fyngemaalde gis pille oor terwyl ek alles goed meng. Die oom op TV het gese 'n mens moet dit nou warm hou sodat die gis sy werk kan doen. Ek sien weer die gis mannetjies in my gedagtes. Dawie se pa het 'n groot hout kompos kas wat hy self gebou het. Ons gooi ou komberse oor die bakke en sit hulle versigtig bo-op die kompos in die kas neer. Die kompos is amper reg en stink nie meer nie. Na 'n week gaan kyk ons. Dit lyk of die goed in die bak lewe. Dit borrel verskriklik en die lemoen skille beweeg asof hulle lewendig is. "Juffrou was reg, gis is lewendig" dink ek. "Ek dink die goed is reg" kondig ek aan.


Ons maak 'n tregter uit 'n plastiek bottel en tap een van die bakke se sous deur 'n sif in die drommetjie in. "Dit ruik vrot." se Dawie, maar more is Saterdag en ons kan nie nou stop nie. "More maak ons alkohol" dink ek. Die span kom vroeg al bymekaar en ons steek die vuurtjie aan. Ons maak beurte om die ketel dop te hou.


Die oom het gese jy moet die eerste treksel weggooi want dit bevat meta. . ., iets baie giftig. Ons wag en wag, en almal is baie teleurgesteld toe ek die eerste halwe bekertjie weggooi. "Hierdie is metabololol, dit is baie giftig" maan ek almal met groot oe. Almal luister en knik hulle koppe. Hulle kan sien ek weet waarvan ek praat. Later vra Gerhard "Hoe weet 'n mens wanneer daai meta bolo goed ophou en die goeie alkohol begin?" Ek dink hard. "'n Mens weet net" antwoord ek. Gerhard dink 'n bietje na oor my antwoord en skud dan tevrede sy kop.


Die druppels verander in stoom. Die water in die mengbak is kokend warm. Ons laat naderhand die tuinslang die hele tyd loop totdat die mengbak oorloop. Die koper pyp bly nou koel en die ketel doen weer sy ding. Ek is bekommerd dat ons 'n modder moers gaan maak met die tuinslang wat heeltyd loop, maar die water verdwyn soos toordery deur die gleufie rondom die staal deksel op die grond. "Volgens pa, meng die water nou met met ons riool." dink ek. Ek dink nog steeds pa spin my 'n storie oor die riool.


Tien liter lemoen sop maak net twee liter mampoer. Die rooi oom op TV het gese, jy kry eers witblits wanneer jy die produk drie keer deur jou ketel laat gaan het. Ons spoel die drommetjie goed uit, gooi die mampoer terug en begin weer. Teen laat middag het ons so 'n halwe liter witblits. Almal is baie trots. Ek vra of iemand wil proe. Niemand steek hulle hande op nie. Ek onthou nou hoe die rooi oom sy witblits getoets het. Ek tap 'n klein bietjie van ons produk in 'n blik bekertjie en gooi dit in die vuur. Dit sis in stoom en die vuurtjie sukkel om oor die skok te kom. "En nou?" vra Dawie. Ek is erg teleurgesteld. Toe die rooi oom dit doen, het dit soos vuurwerke gelyk soos sy witblits aan die brand slaan. "Ek dink nie dit het gewerk nie" se ek teleurgesteld. "Ons moes seker iets verkeerd gedoen het" dink ek.


My geld is op van al die suiker koop en daar is net 'n paar gis pille oor. Die projek is tot verdere kennisgewing op hou.


Een aand kom oom Sakkie en sy vrou saam met 'n ander oom by ons kuier. "Oom Sakkie se gesig is ook rooi, net soos die oom op die TV", dink ek. Pa drink selde, en ons het geen drank in die huis nie, maar oom Sakkie bring sommer sy eie wanneer hy kom kuier. Oom Sakkie kom van die plaas af. Hy vertel dat hy en sy oudste broer nou darem weer praat na die groot uitval oor die erfgeld. Oom Sakkie kyk waar die vrouens is en haal dan 'n bottel met deurskynende goed in uit sy sak. Die bottel het nie 'n label op nie. Al die mans skuif nader. Hy skink vir elkeen 'n klein glasie en selfs pa vat een. Die mans sluk dit in een teug af en almal gril en lag. Oom Sakkie vertel dit is witblits wat hy en sy broer self gemaak het. Ek is my pa se kind, so ek weet wat kom. "Vertel my presies hoe maak jy die goed, wil pa weet". "Jackpot!" dink ek. Ek skuif nader. Oom Sakkie begin vertel. Hy skink 'n tweede glasie vir almal en vertel verder. Die ander mans wil nie nog he nie maar oom Sakkie bly vir homself skink. Na sy vyfde glasie, vergeet oom Sakkie aanhoudend wat hy volgende wou se en op 'n stadium begin hy sommer 'n heel ander storie vertel, wat niks eers met die witblits te doen het nie. Ek maak in my kop sommer ook notas oor die newe effekte van witblits vir 'n ander eksperiment waaraan ek werk. Ek kan nie wag vir die naweek nie. "Waar gaan ek vrugte en suiker kry?" wonder ek.

Kosie kom tot die redding met ‘n sak suiker en die bure oorkant se perskes is so te se ryp. Kosie se familie is groot en hulle pa laat Makro by hulle aflewer. Een sak suiker sal sy pa nooit mis nie. Ek skryf die keer die witblits resep neer. Meeste van dit kom van oom Sakkie af, maar net tot hy so drie glasies witblits ingehad het. Die res maak ek maar self op, en so hier en daar sit ek goed in wat die rooi oom op TV gese het.

Die perskes is nog hard en suur maar ons gooi ekstra suiker by. Ons volg slaafs oom Sakkie se resep, en die keer ruik die sop heelwat beter. Dit ruik nie meer vrot nie, maar eerder soos iets waarmee ma goed skoonmaak. Ons almal hou duim vas. Ons kook die hele Saterdag. ‘n Kop verkyn skielik oor die muur. Ons skrik ons dood. “Wat maak julle!” maak ouboet ons skrik. “Hy sal nie vir pa vertel nie, hy is koel.” stel ek almal gerus. Dit is al donker toe ons die laaste witblits in die bottel tap. Sonder om te dink skiet ek die laaste bietjie in die vuur. Dit maak ‘n moerse vlam en Dawie skrik so, hy val agteroor van die stomp af waarop hy sit.

Almal staar mekaar verbaas aan. “Dit werk!” skree ek. Ons het sopas alkohol gemaak. Elkeen proe aan dit en gril hulle dood. “Waarom drink grootmense die goed?” wonder ons.


Elkeen kry 'n beurt om alkohol in die vuur te gooi. Ons maak later 'n kuier vuurtjie en gesels tot laat oor alles wat gebeur het en hoe ons gesukkel het en hoe groot die vlamme was toe ons die alkohol in die vuur gegooi het. "Ons het dit gedoen" se ek toe ons uiteindelik almal huistoe gaan.


Later die aand, toe ek in my bed le, probeer ek onthou hoe dit alles begin het. "Dit was juffrou wat die idees in my kop geplant het. Dit is alles haar skuld." dink ek.


More is 'n nuwe dag, vol wonderlike goed om uit te vind.

"Wat is volgende?" wonder ek.


80 views0 comments

Recent Posts

See All

Spookasem

Diners club

Comments


bottom of page