top of page
Search
Writer's pictureandrevanzylrt

Spookasem

Updated: Aug 14, 2020



Gerhard en Dawie kom aangehardloop met groot oe. Hulle lyk of hulle 'n spook gesien het.

'Wat?" vra ek. "Kom kyk" se hulle tegelyk.


Ons kon almal soos katte oor ses voet mure klouter in daai dae. Binne oomblikke sit ons al drie bo-op ons agtermuur en staar na die oopte en die treinspoor in die verte. 'Wat?' vra ek weer. Altwee wys na iets in die skaduwee in die hoek tussen ons en die kafee se muur.


'Dis pienk, wat is dit?' wil ek weet. 'Spookasem!' antwoord Gerhard en Dawie soos een man. 'Waar kom dit vandaan, wie s'n is dit?' wil ek weet maar Gerhard end Dawie trek net hulle skouers op. Ons spring af en land in die veld.

'Dit kan 'n lokval wees ouens" maan ek.

Ek lees elke aand 'Trompie' en 'Die Uile' so ek weet van die goed. Ons bekruip die pienk ding totdat ons amper aan dit kan raak. Ek staan verstom regop en kyk rond vir leidrade. Behalwe vir die draad waaraan die spookasem vasgemaak is, is daar geen ander drade nie.

’Dis veilig ouens‘ laat ek weet.


Voor my le 'n hele bondel opgeblaasde plastiek sakkies met pienk en geel en blou en wit spookasem in. Die sakkies is styf opgeblaas en toegeknoop om die lug in te hou.

Ma weier om spookasem uit sulke opgeblaaste sakkies te eet want sy se sy weet nie wie die sakkies opgeblaas het nie. Gewoontlik lag pa altyd en se die lug kom uit ‘n bottel uit, maar ma ‘floor’ hom met ‘Hoe weet jy?’

Pa eet gevolglik ook nie meer spookasem wat uit opgeblaaste sakkies kom nie.


Net bo die knope, is elke sakkie deur 'n bloudraad ring van so een meter groot geryg om ‘n moerse groot bondel te maak.


'Hoeveel sakkies dink julle is hier?' vra ek.

Gerhard raai 'n honderd.

Dawie raai 'n duisend.

Ek en Gerhard lag.

'Dit kan nie 'n duisend wees nie' spot ons.

Dawie kyk weer mooi. Sy lippe beweeg maar daar kom nie woorde uit nie.

'Hy tel seker' dink ons.


Trompie fluister in my oor. . .

'Dalk het iemand gif in die spookasem gesit om ons te probeer dood maak' maan ek.

'Hoekom sal iemand dit wil doen?' wil Gerhard weet.

'Jy sal nie verstaan nie, jy is nog te jonk' sit ek vir Gerhard op sy plek.


Ek vinger-hekel gou vir ons 'n tou en ons hys die pienk spookasem monster op en oor die muur. 'Moenie dat pa sien nie' waarsku ek. Ons sleep die hele lot tot by die buitekamer se deur maar die bondel is te groot om deur die kosyn te pas. Ek gaan haal 'n tang en knip die bloudraad ring. Ons reig die sakkies versigtig uit en staar mekaar paniekbevange aan. Die hele grasperk le nou vol sakkies en ek hoor pa se stem in die TV kamer. Whisky, my steekhaar brak kom kyk ook wat aangaan.


'Die skoorsteen!' kondig ek aan. In die hoek van ons buitekamer was 'n ingeboude baksteen skoorsteen wat in die muur van die geboutjie ingemessel was. Die onderkant van die skoorsteen was so een en 'n half meter van die grond af en daar was 'n staal pyp wat die skoorsteen met 'n klein driepoot koolstofie op die grond verbind het.


Ons het die stofie selde gebruik, want ons het nie ‘n bediende gehad om in die kamer te bly nie. Ma het vyf uur elke oggend self die huis skoongemaak. As iemand haar vra hoekom ons nie ’n bediende het nie, dan het sy altyd gese hulle maak haar mal want hulle vat te lank en sy wil klaar kry.


Die skoorsteen pyp was los en 'n mens kon dit maklik uithaal. Die binnekant van die skoorssteen was wyd en lank, al die pad tot bo. Ek het in die verlede al gereeld van my eksperimente hier vir Pa weggesteek.


Na 'n geswoeg het ons al die sakkies binne-in die skoorsteen. Gerhard klim op die dak en blok die bokant van die skoorssteen met 'n plank sodat ons fonds nie natreen nie. 'Wat as dit giftig is?' wil Dawie bekommerd weet. Ek dink hard aan maniere om die spookasem te toets, terwyl Whisky ons aanstaar en wonder waarmee ons besig is. Hy weet iets is aan die gang en hy maak gewoontlik seker hy is ook betrokke.


Ek kry 'n idee, maar dit is nie 'n goeie idee nie, so ek bly eers stil.


‘Dit is nou al ure‘ dink ek. ‘Dit is nounou donker en ons het nog nie eers 'n stukkie van die spookasem geproe nie‘.


Ek vra vir 'volunteers' om die spookasem te proe, maar selfs Dawie huiwer.

Ons het verlede jaar vir Dawie 'gedare' om 'n vol bottel asyn uit te drink, en hy het.

Dawie het die 'Sondag aand in die hospitaal deurgebring, maar hy was weer reg teen die Dinsdag. Ons het vir Dawie se pa gese ons het verskriklik baie swiets geeet. Die Dokter het 'n heel ander teorie gehad en blykbaar was die oom amper in die moelikheid en die dokter wou selfs die 'welfare' roep. Ons is nie seker wie die 'welfare' is nie, maar iemand se hulle dink dit is die kinder polisie. Oom Jannie het voor die tyd altyd van my gehou en gese ek is baie verantwoordelik, maar nou is ek nie meer so seker nie. Hy kom kyk nou gereeld wat ons aanvang en wil die heel tyd weet wat ons eet.


Terug by ons plan.

'Siende dat julle honde nie beskikbaar is nie, sal ons maar vir Whisky moet gebruik' laat ek vir Gerhard en Dawie lekker sleg voel.

Nie Gerhard of Dawie het honde nie, maar ek laat hulle nie so maklik daarmee wegkom nie. Ek wil he hulle moet weet hoeveel opoffering die van Zyls al weer moet maak.


Met die 'van Zyls' bedoel ek natuurlik my hond Whisky van Zyl.


Ons kyk eers waar pa is, en Gerhard gaan haal dan 'n pakkie spookasem uit die skoorssteen uit. Ek gaps een van ma se geel tuin handskoene en trek dit oor my linker hand. Ek skeur versigtig die plastiek sakkie oop en draai my kop weg sodat ek nie per ongeluk van die gifgas wat dalk in die sakkie is, in asem nie.

'Whisky" roep ek, en my hond kom aangedraf. Daar was beweer dat Whisky 'n kruis tussen 'n Irish terrier en 'n French poodle was. Whisky klim bome en seil oor sesvoet mure soos 'n kat. Ma het al allerhande drade op die mure gespan maar Whisky kom uit, net waneer hy wil.


'Ons gaan jou mis as jy iets moet oorkom' se ek somber, maar gee nietemin vir Whisky 'n stuk van die spookasem om te eet.

Whisky vat dit versigtig in sy bek en laat dit val op 'n stukkie groen gras daar naby. Whisky kyk teleurgesteld op en staar na ons, amper asof hy weet wat aangaan. Spookasem was nog nooit sy gunsteling nie, maar hy begin nietemin daaraan lek, en skud wild sy kop, elke keer wanneer die spookasem aan sy steekbaard vasplak.


Ons drie hou vir Whisky aandagtig dop. Dit is naderhand donker en Gerhard se pa fluit. Dawie se sussie kom hom ook later roep, en net ek bly oor.


'Wats fout met die hond?' hoor ek skielik 'n stem uit die donker.


Dit is ma. Ma is nie stupid nie. Ma weet meeste van die tyd presies waarmee ons besig is, maar ma is nie 'n 'snitch' nie. Pa moet net nie weet nie.


'Niks nie ma, ek speel sommer met die hond' lieg ek.

'Hoekom hou jy hom al die hele middag dop?' wil ma weet.

'Hy het vanmiddag opgegooi, sulke wit slym' lieg ek.

'Ek wil net seker maak hy is ok ma'.

Ma kyk my agterdogtig aan.

'As julle iets met die hond aangevang het, gaan jou pa hiervan hoor' dreig sy.

'Nee, ons het nie, ek b...'

Ek sukkel nog altyd om oortuigend te lieg, en ma weet dit. Sy staar my vir 'n oomblik aan, en ek voel hoe sy my gedagtes lees.

'Ek hoop vir jou part die hond kom niks oor nie' se ma terwyl sy wegstap.

Ek slaap nie lekker daai nag nie.

'Wat het ons aangevang?' dink ek.

'Arme Whisky, wat as hy doodgaan?'


Ek is Maandag more vroeg op, nog voordat ma met die stofsuier my kamer binnevaar. Voor ek by die agterdeur kom, hoor ek ma se stem.

'Die hond is ok'.

'Dankie tog!' dink ek.


Maandag na skool kom ons drie bymekaar.

'Julle vertel vir niemand nie!' dreig ek.

'As my pa uitvind . . .Julle weet wat sal gebeur as my pa uitvind' waarsku ek.

Twee koppe knik gelyk.

Elkeen mag een pakkie spookasem kry.

'Wat as die gif niks aan honde doen nie, en net mense doodmaak?' wil Dawie weet.

Die stuk soetsuiker spookasem in my mond verander in gal. Ek voel ook hoe die gif deur my vingers se vel in my lyf intrek.


'Whisky eet al ons oorskiet kos elke aand. Sy maag is nou al soos 'n mens s'n' stel ek vir Dawie gerus.

'My ma se honde se mae is baie anders en 'n mens mag nie eers vir hulle sjokolade gee nie' laat Gerhard weet.

Ek dink hard. . .

'Sien!‘ se ek skielik.

‘Onthou julle nou die dag by die Diners Club vergadering toe Whisky die Lunchbar gesteel het. Hy het niks oorgekom nie!' 'Nee wat, Whisky is soos 'n mens. Watter ander hond ken julle wat kan boomklim?' vra ek hulle vas.

Die spookasem word weer soet en ons eet lekker verder.


Ons drietjies eet vir weke lank een keer per week skelm spookasem, en niemand vind uit nie. . . tot een Sondag middag. Ek sluip weereens oor die pad na Gerhard se huis toe met drie sakkies onder my hemp. Die plastiek sakkies is nie meer so styf opgeblaas nie en die spookasem begin nou meer soos toffie raak, maar proe nog steeds so lekker. Dawie en Gerhard wag reeds vir my. Daar is 'n nou gangetjie langs Gerhard hulle se huis waar niemand ooit kom nie. Ons skeur ons pakkies oop en probeer vir die soveelste keer 'n storie uitdink oor presies waar die spookasem vandaan gekom het.


'Wat maak julle!?' hoor ons skielik 'n harde stem.


Ons skrik ons lam. Ons kyk verward om ons rond maar daar is niemand nie.


'Wie was dit?' vra Dawie verward.

'Dis ek man, hierbo by die venster. Waar kry julle die spookasem?'

'Mariet' se ek verdwaas toe ek haar stem erken.

'Wat gaan hier aan?' vra Mariet skielik agterdogtig toe sy die uitdrukkings op ons gesigte sien.

'Waarmee is julle al weer besig?' wil sy weet.


Die volgende Sondag middag sluip ek met vier pakkies spookasem oor die pad.





72 views0 comments

Recent Posts

See All

Diners club

Comentarios


bottom of page